'n Tradisie van onderskeiding

Hoërskool Upington het reeds sy 118de verjaarsdag gevier – en die lang lys suksesse maak ons trots.  Die Uppiefamilie het onder meer opgelewer:

  • Twee rektore: Prof Chris Brink (Universiteit Stellenbosch) en Prof Stef Coetzee (Vrystaat Universiteit), wie tans president van die Afrikaanse Handelsinstituut is.
  • Professore en skrywers  - selfs ‘n Hertzogpryswenner en Erelid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in die persoon van Prof Gerhard Beukes
  • 4 Rugbyspringbokke, Tiaan Strauss (1992 –1994) uitgewyk na Australië en uitgedraf vir Wallabies, Willem Barnard (Nieu-Seeland 1949 en Wallis 1951), Daantjie Rossouw (2 toetse in 1953) en Abé Hummel.
  • Verskeie sportmanne en –vroue wat Suid-Afrika en selfs Namibië in verskillende sportsoorte verteenwoordig het.
  • Die skool was verskeie kere as die top akademiese skool in die provinsie aangewys.
  • Statistiek toon dat ongeveer 68% van ons Graad 12 leerders jaarliks verder gaan studeer. (Ongeveer 700 oud-skoliere het grade by verskeie universiteite die afgelope 10 jaar behaal)


En die huidige Uppies hou die lys in stand:

  • Die Dekaanstoekenning vir akademiese toppresteerder in die B. Hons (Biokinetika) program by Maties, het onlangs na ‘n Oudleerling gegaan;
  • Die skool word steeds op Provinsiale vlak verteenwoordig; vanaf rugby, tennis tot hokkie,netbal, karate, skiet en hengel.  Ons leerlinge word steeds opgeneem in provinsialeskaakspan - en het onlangs die Noord-Kaap Skaakkampioen opgelewer!
  • Uppies het onlangs 3 leerders in die SA Biathle-span gehad,
  • Die skool wen steeds Afrikaanse Olimpiades en Wêreldkennis Olimpiades.
  • Die Musiekleerders en koor onderskei hul by kunstefeeste, verskeie leerders wen in nasionale kunskompetisies en die skool se Drama-suksesse is legendaries.
  • Uppies het tydens die laaste ATKV Nasionale Ekspo ‘n nasionale derde plek verower onder mediumgrootte skole - die enigste skool in Noord-Kaap wat vir hierdie toekenning in aanmerking gekom het – en Mishka Dames se opstel het haar ‘n eerste plek in die land besorg in die afdeling Afrikaans Eerste Addisionele Taal.
  • Die skool word onlangs aangewys as een van die Top Wiskunde skole in die Noord-Kaap.
  • Hoërskool Upington  het ‘n leerder op die ABSA Junior Direksie en was die enigste kandidaat van Afrika (en een van net 16 in die wêreld) om ’n lid te hê wat in die Wikimedia-stigting se raad van trustees dien.


‘n Lys te lank om op te noem...

DIE BEGIN
1896 het geboorte gegee aan “Upington Public School”; ‘n paar klaskamers vir 102 leerlinge ingerig in die ou kerkgebou van die NG Kerk.  Groei het uitbreidings genoodsaak en op 8 Mei 1904 is ‘n nuwe skoolgebou in gebruik geneem. Twee jaar later word leerlinge se akkommodasie behoeftes aangespreek d.m.v ‘n addisionele kamer by die nuwe gebou.

Op voorstel van mnr. BJB van der Merwe, ondervoorsitter van die skoolkomitee, word die skool tot ‘n Tweedeklas-skool (middelbare skool) verhoog.  Teen 1907, onder hoofskap van Mnr. Slabbert, spog die skool met ‘n tennisbaan en krieketkolfblad.

‘n Nuwe skool word in 1919 gebou en van daar af het gereelde uitbreidings en aanbouings gevolg.  Teen 1933 was dit feitlik die grootste skool in Kaapland en word planne vir ‘n skoolsaal opgestel (die huidige D.W van Rensburgsaal).  ‘n Houtwerkkamer en laboratorium volg, die skoolgebou word ‘n dubbelverdieping en ‘n nuwe skoolsaal word op 26 Maart 1958 deur Dr. Gerhard Beukes ingewy.  ‘n Wapenkamer word gebou, tennis- en netbalbane verskuif,  9 klaskamers word na 34 en 4 laboratoriums uitgebrei.

Die eerste koshuis word in April 1914 geopen, maar doen eers tydelik diens as hospitaal ten tye van die Eerste Wêreldoorlog.  Voordat ‘n koshuis vir seuns in 1945 voltooi is, is seuns in die skoolsaal gehuisves.

Gedurende 1983 oorhandig prof Gerhard Beukes sy boekery en sy droom om ‘n kultuursentrum rondom hierdie literêre skat te ontwikkel, aan sy Alma Mater.  Hierdie geestesskat word sedertdien in sy eie vertrek gehuisves.  Planne is gefinaliseer om die Gerhard Beukes Biblioteek gedurende 2011 in ‘n kultuursentrum te omskep.

Gedurende die laaste twee jaar is daar heelwat gemoderniseer en onlangs is ‘n toerismesentrum en wiskundesentrum op die terrein ingerig.  Drie rugbyvelde (waarvan een spreiligte het) en ‘n gras-hokkieveld is aangebring.  Die skool se voorkoms het so pas baie aandag geniet en nuwe tuine is aangelê.

‘n Klubhuis met sy eie kosbare rugbymemento’s is nie net vir leerlinge en ouers aangebou nie, maar veral om aan oudleerlinge ‘n plek te bied waar hul kan saamkuier en sê:  “Dis lekker om weer tuis te wees”.

WAARDES
Die waardes wat vandag nog nagestreef word, word baie jare gelede al op verskillende geleenthede deur Hertzogpryswenner, prof Gerhard Beukes saamgevat:

By die oorhandiging van die skoollied in 1962:  “Vir my was die skryf van hierdie skoollied vir my Alma Mater veel meer as net nog 'n skoollied wat op musiek "gemaak" word;  Dit het die beliggaming geword van al my hunkering terug na my land en my kinderdae, van my diepste begeerte dat die kinders van my ou skool steeds onder sy dak sal vind wat ek daar gevind het:  geloof, werksywer, moed, volharding - en die liefde vir alles wat skoon en eerlik en opreg is!  En om al dié waardes wat ek as kind daar gekry het, skenk ek met groot dankbaarheid aan my ou Alma Mater hierdie skoollied.  Ontvang dit in dieselfde gees"....

Vir die reunieblad in 1974:  “Ek groet my Alma Mater”,.  “Ek weet nou dat ‘n mens jou nooit kan losmaak van omgewings- en persoonsinvloede uit jou jeug nie.  En hy wat in sy ryper jare daardie wortels wil afkap wat hom deur die jare gevoed het, wortels wat aan hom die waardes gebring het wat koers en betekenis aan sy latere lewe gegee het, is dwaas en kortsigtig.  “Ons sê vandag dankie aan opvoeders wat met vol hande gesaai het – selfs waar die vooruitsigte op ‘n oes soms maar skraal gelyk het.  Ons sê dankie vir hul geloof in die goeie van elke kind, vir die besef dat die hoogste doel in ons menswees nie die versameling van stoflike rykdomme is nie, maar die uitbou van karakter deur middel van ‘n gedissiplineerde gees”.

ARBOR BONA, FRUCTUM BONUM – ‘n Goeie Boom dra Goeie Vrugte

Dat Hoërskool Upington se eeue-lange reputasie vir uitmuntendheid uitgebou moet word, is ‘n hart-saak.  Dit is ‘n passie om toe te sien dat hierdie skool voortgaan om produkte te kweek wat ligte in die wêreld daarbuite gaan aanskakel.



Ons Geskiedenis

ons geskiedenis

Visit Schools that Rock

str

Uppies Kalender

Vorige Maand Desember 2017 Volgende Maand
S M T W T F S
week 48 1 2
week 49 3 4 5 6 7 8 9
week 50 10 11 12 13 14 15 16
week 51 17 18 19 20 21 22 23
week 52 24 25 26 27 28 29 30
week 1 31

Like us on Facebook

Kontak Besonderhede

Tel: +27 (0) 54 332 1491
Faks: +27 (0)54 331 1456
E-pos: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Web: www.uppies.co.za
Bus 43 Upington 8800
H/v Park- en Le Rouxstraat

Flag Counter